Indien jy gisteraand se uitsending van Winslyn op kykNET kanaal 144 misgeloop het, hier is die insetsel wat hulle verfilm het saam met my en die span van Skript.tv. Wat ‘n voorreg om onafhanklik te kan werk in ‘n vooruitstrewende industrie waar jy omring word deur ander briljante kreatiewe entrepreneurs!
Luister gerus na my wenke vir ander kreatiewe entrepreneurs wat ook ‘n loopbaan wil volg in ‘n digitale wêreld. Indien jy enige verdere vrae het oor my loopbaan en projekte, kontak my gerus.
Ek verfilm elke maand ‘n kookvideo in samewerking met TUIS Tydkrif vir #KosVosVrydag (die laaste Vrydag van die maand). Hier is ‘n fantastiese resep vir maklike appelkoosbottersous waarmee jy vars vis kan bedruip vir die kole. Ek het ‘n kabeljou gebraai, maar die sous is ook perfek vir snoek, forel en amper enige vars vis.
Geniet die feestyd!
Kabeljou oor die kole met appelkoosbottersous: (bedien 4-6)
125 ml botter, gesmelt
sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
1-2 knoffelhuisies, fyngerasper
30 ml fyn appelkooskonfyt
’n handvol vars dille, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper
1 vars vis, gevlek (bv. kabeljou, geelstert of snoek – minstens 1,7-2 kg)
’n bietjie kookolie (om die rooster mee te olie)
Metode:
Meng die botter, suurlemoensap en -skil, knoffel, konfyt, dille, sout en peper in ’n klein mengbakkie of kastrolletjie met ’n handklitser. Die konfyt moet heeltemaal gemeng wees.
Gebruik die olie om die binnekant van jou toeklaprooster te olie sodat dit vis nie vassit nie.
Plaas die vis velkant na onder op die rooster.
Gebruik ’n kwassie om die vis te bedruip met die sous. Braai die vis oor medium-warm kole – begin met die velkant na onder.
Wanneer die vis effens gaar begin word aan die bokant (die vis sal plek-plek witter begin lyk, dit neem ongeveer 7-10 minute), draai dit om sodat die bokant ook kleur kry en die vis deurgaar word. Draai weer terug en bedruip ’n laaste keer met die sous. Moenie die vis te lank braai nie anders sal dit droog word.
Verwyder versigtig van die rooster en plaas op ’n opdienbord. Bedien met aartappels en ’n groenslaai.
Wenk: Kook die sous vir 30-60 sekondes in die mikrogolfoond om dit ook as ’n opdiensous te kan voorsit.
Niks is so lekker soos vars vis op die rooster nie! (fotografie deur Francois Oberholster van TUIS Tydskrif)
Nog ‘n vraag via Facebook: Katrin Herrmann van Dyk braai graag gesnyde hoenderborsies in ‘n pan vir pizza of pasta, maar dit raak altyd waterig en wil nie bruin word nie. Die antwoord? Gebruik ‘n baie warm pan (die olie moet ‘n rokie maak) en moenie al die hoender gelyk braai nie. Pragtige goue hoenderrepies, elke keer. Stuur gerus jou vrae aan Die Kos Vos op Facebook!
Ek is vreeslik lief vir avokados. En daar is so baie maniere om dit geniet. Maar hoe gemaak as jy dalk ‘n boom in jou tuin het wat honderde avokados dra, en hulle is byna almal ryp op dieselfde tyd? Kan jy dit vries?
Kyk gerus my video waarin ek hierdie vrae beantwoord. Indien jy inspirasie soek vir die beste avo resepte op die web, hier is ‘n lys met fantastiese skakels waar jy sommer tonne inspirasie sal vind:
Vandag beantwoord ek die eerste Facebook vraag, en hierdie een kom van Erin Nel. Sy wil weet wat om te doen sodat haar suurlemoen-meringue-terte nie daai goue druppels bo-op kry nie, maar bros kan bly sonder enige vog. Erin, hier is jou antwoord!
Stuur gerus jou kombuisvrae na my op Facebook en ek antwoord jou spoedig.
Ek is bevoorreg om een, pragtige, gesonde kind te hê – ’n vyfjarige dogter met die unieke naam, Valki. Valki is ’n Skandinawiese (Viking-) naam en dit beteken “fantasties”. Toe ons haar naam gekies het, het ons min geweet dat haar persoonlikheid so goed by haar naam sou pas. Valki ís fantasties! Sy is borrelend, haar entoesiasme is aansteeklik, sy is nuuskierig en vlymskerp met ’n bekoorlike sin vir humor.
Ek en Valki kook graag saam. Kinders is gewoonlik baie geinteresseerd in kosmaak – ek wens meer ouers wil hul kinders toelaat om te help kook. Dis ’n fantastiese manier om kinders bewus te maak van goeie bestanddele, gebalanseerde eetgewoontes en wonderlike samesyn in die kombuis.
Geniet hierdie resep vir gekrummelde hoenderrepies, dis ’n absolute gunsteling in ons huis vir jonk en oud.
Krakerige gekrummelde hoenderrepies met tamatiesous (foto en stilering deur Nicola Pretorius)
Bestanddele: (bedien 4-6 as ’n ligte ete)
1/2 koppie meel
1 teelepel sout
1 teelepel paprika
500 g hoenderborsies, opgesny in repies
4 eiers, geklits
6 snye brood, fyngemaak in ’n voedselverwerker
canola olie, vir vlakbraai
Metode:
Meng die meel, sout en paprika saam in ’n vlak bakkie.
Doop elke hoenderrepie in die meelmengsel, dan in die eier en dan in die krummels. Maak seker die krummels bedek elke repie, en plaas dit dan een vir een op ’n skoon bord of skinkbord.
Verhit die olie in ’n groot swaart pot, en vlakbraai aan beide kante tot goudbruin (of bak dit op ’n gevoerde bakplaat teen 220 C vir ongeveer 20 minute tot goudbruin). Dreineer op kombuispapier en bedien met tamatiesous or mayonnaise.
Wenk: Die hoenderrepies verkry ’n lieflike krakerige resultaat as dit gebraai word in olie, maar jy sal heelwat vet uitsny indien jy dit eerder in die oond bak. Kinders kort goeie olies in hul dieet en ek verkies self of dit eerder in olie te braai. Maak self die besluit wat vir jou huishouding die beste sal werk.
Niks is beter as die reuk van ‘n eenvoudige, tuisgebakte brood uit jou eie kombuis nie – stomende brood met ‘n krakerige korsie, waarin die botter kan smelt soos jy dit smeer. Almal wat ek ken (wat nie sensitief is vir koolhidrate nie) is doodeenvoudig mal daaroor.
Nie almal het die moed om deeg aan te maak, te knie, te laat rys en te bak nie. Wel, hier is ‘n resep wat enigiemand kan maak wat met ‘n houtlepel kan roer, want dit hoef nie geknie te word òf te rys nie. Selfs my man Schalk (wat net kan toebroodjies maak en vleisbraai) kan hierdie brood maak. Roer, skep, bak. Die eindresultaat is soveel groter as die bietjie moeite en dis absoluut heerlik.
Bierbrood – die maklikste resep vir ‘n stomende broodjie vir jou volgende braai sonder om eers jou hande vuil te maak. (Fotografie deur Nicola Pretorius)