Top 10 wenke vir stresvrye feestyd onthaal

'n Kersmaal wat ek in vroeër in Desember met Woolworths se luukse reeks feestelike produkte tuis voorberei het. Stresloos! (#mywwchristmas)
‘n Kersmaal wat ek in vroeër in Desember met Woolworths se luukse reeks feestelike produkte tuis voorberei het. Stresloos! (#mywwchristmas)

Dis middel Desember. Of “silly season”, soos dit in die volksmond bekendstaan. Die winkels is vol flitsende liggies, blink Kersboomballe, groot stukke vleis en reuse pakke soutbeskuitjies.

Ek is uiteindelik in Keurboomstrand saam met my familie – die plek waar ek onwillekeurig afskakel en my hele wese herlaai. Net om die draai is Plettenbergbaai – die meer kommersiële byenes waar ons noodgedwonge elke nou en dan moet gaan inkopies doen.

Hierdie tyd van die jaar is Plett se winkels ‘n mal uitstappie wat jy met spesiale brawade moet aanpak. Die supermarkte staan bont om te voorsien in die buitengewone instroming van vakansiegangers en hul inkopie behoeftes. Sommige dae staan die toue in Woolworths letterlik die hele winkel vol: jy kry jou trollie by die ingang en val dadelik in die ry wat kronkel regdeur die gange tot by die betaalpunte, en soos jy verby die rakke gaan laai jy in wat jy nodig het – dit neem maklik twee ure van begin tot einde. Om nie eens van die parkering te praat nie.

Nou ja, as die stres al begin by parkering, dan het baie van ons reeds min moed as dit kom by inkopies en kosmaak vir die honger familie tuis. Hierdie tyd van die jaar beteken “familie” (plus aanhangsels en vriende) maklik ‘n groep van 12 of meer. Maar dis hier waar die goeie nuus begin: jy KAN stresloos onthaal hierdie seisoen as jy my raad volg en ‘n bietjie eenvoudige beplanning doen. Vakansietyd is bedoel om geniet te word, so sit terug, skink ‘n wyntjie en teug aan hierdie tien nuttige wenke wat jou sal toelaat om stresvry te onthaal:

  1. Beplan jou spyskaart vroegtydig. Ek begin gewoonlik by die hoofgereg, en beplan dan die res rondom dit. Hou ingedagte waar jy is (dalk by die see) en watter bestanddele vars, seisoenaal en bekostigbaar is.
  2. Kies ‘n paar items op jou spyskaart wat jy al die vorige dag kan voorberei, soos ‘n terrien vir voorgereg of ‘n gestolde koue nagereg of miskien ‘n feestelike pavlova. Deesdae is daar ook fantastiese opsies in die winkels vir klaargemaakte terriens en nageregte wat jou baie tyd en moeite sal spaar.
  3. Maak seker jy kies ‘n samestelling van geregte wat nie alles gelyk in die oond moet kom nie. Stadig geroosterde vleis kan baie tyd in die oond opneem (teen lae temperature) en dis moeilik om aartappels en ander baksels teen dieselfde temperatuur gaar te kry. En dan is daar ook die kwessie van spasie in die oond.
  4. Kry al jou resepte vroegtydig bymekaar – ek hou daarvan om dit uit te druk en in ‘n pakkie saam te groepeer. Dan hoef jy nooit tred te hou van resepte in verskeie boeke nie.
  5. Maak ‘n volledige inkopielys met onderafdelings vir suiwel, vleis, groente, spensprodukte ens. Maak verskillende lyste vir verskillende supermarkte of spesialiteitswinkels, indien van toepassing (bv slaghuis, viswinkel). Doen jou inkopies verkieslik die dag voordat jy moet onthaal.
  6. Bepaal ‘n tydlyn of rooster vir wanneer wat moet gebeur en skryf dit neer. Begin by hoe laat jy wil hê jou gaste moet eet (bv. 20h00) en tel dan ure terug hoe laat jou vleis in die oond moet kom (bv. 15h00), ens. Onthou om die vorige dag se voorbereiding ook in te sluit. So kan jy hou by ‘n doenbare skedule en elke stap afmerk soos jy aangaan.
  7. Dek jou tafel vroegtydig, wanneer jy nie gejaag is nie. Onthou: messe, vurke, lepels, borde, waterglase, waterflesse, wynglase, kerse, blomme, sout en peper. Onthou dat jy groen plante/takke uit jou tuin kan gebruik vir dekor en dat natuurlike elemente soos vrugte, hout en droeë takke baie mooi lyk op ‘n feestelike tafel.
  8. Maak jou badkamer gereed vir gaste met ‘n skoon handdoekie en lekkerruik seep vir handewas.
  9. Plaas jou drankies en vonkelwyn vroegtydig in die yskas (sommer al vroegoggend) en onthou om genoeg ys te koop. Niemand is lief vir warm vonkelwyn nie.
  10. Moenie nee sê vir hulp nie! Mense is gewoonlik gretig om te help en dit kan jou werklading baie minder maak. Vra iemand om drankies te skink vir jou gaste soos hulle arriveer.

Vir Kersfees hierdie jaar is ons ongeveer 16 volwassenes en 5 kinders tesame. Ons beplan ‘n koue Mediterreense tapas-styl feesmaal met varsgebakte brode en hope samesyn. Wat ‘n voorreg om sulke spesiale nuwe herinneringe te kan skep. Haal diep asem en geniet elke oomblik!

(Kyk gerus na my Pinterest bord vir feestelike dekor inspirasie hierdie seisoen.)

Print Friendly
Deel dit:

Leave a Reply