Niks is beter as die reuk van ‘n eenvoudige, tuisgebakte brood uit jou eie kombuis nie – stomende brood met ‘n krakerige korsie, waarin die botter kan smelt soos jy dit smeer. Almal wat ek ken (wat nie sensitief is vir koolhidrate nie) is doodeenvoudig mal daaroor.
Nie almal het die moed om deeg aan te maak, te knie, te laat rys en te bak nie. Wel, hier is ‘n resep wat enigiemand kan maak wat met ‘n houtlepel kan roer, want dit hoef nie geknie te word òf te rys nie. Selfs my man Schalk (wat net kan toebroodjies maak en vleisbraai) kan hierdie brood maak. Roer, skep, bak. Die eindresultaat is soveel groter as die bietjie moeite en dis absoluut heerlik.

Bestanddele: (lewer 1 standaard brood)
- 500 g bruismeel
- 5 ml (1 teelepel) sout
- 1 1/2 standaard blik/bottel bier (ongeveer 500 ml)
Metode:
- Voorverhit jou oond tot 180 C en spuit/smeer ‘n standaard broodpannetjie met kleefwerende middel.
- Plaas die bruismeel, sout en bier in ‘n groot groot mengbak. Roer goed met ‘n houtlepel.
- Gooi die mengsel in die voorbereide broodpan en maak effens gelyk bo-op. Bak teen 180 C vir ongeveer 50-60 minute tot goudbruin.
- Verwyder uit die oond en keer om op ‘n draadrak of skoon vadoek. Laat effens afkoel (voor jy dit sny) en bedien dan warm.

Krediete:
Video vervaardig deur Skript.tv.
Draaiboek, aanbieding en resep: Ilse van der Merwe – Die Kos Vos
Handelsmerk- en stelbestuur: René Geustyn – the O. co
Stelstilering, kosstilering en fotografie: Nicola Pretorius – Lark Haus.