Suurlemoensmeer

Ek is ‘n groot bewonderaar van Ina Garten, die bekende Amerikaanse kosskrywer en geliefde tv-chef. Op 69 is sy steeds besig met die vervaardiging van nuwe resepteboeke, tv-reekse en die bestuur van haar uiters suksesvolle handelsmerk. Maar die dinge wat my die meeste van Ina opval is die aansteeklike vonkel in haar oë, haar rustige manier van kook en gesels, en die feit dat haar resepte altyd uitstekende resultate bied. Sy is ‘n natuurlike kok met dekades se ondervinding en ‘n kalmerende geaardheid – ek wens ek kan haar ontmoet!

Hier is een van Ina se fantastiese resepte wat ek gereeld maak: suurlemoensmeer (lemon curd). Dis ‘n maklike resep wat nog nooit skeefgeloop het in my kombuis nie. Jy het wel ‘n voedselverwerker nodig om die suiker en suurlemoenskil saam fyn te maak, en dit vergemaklik die res van die metodelys aansienlik. Die botter, suiker-skil-mengsel, eiers en suurlemoensap word dan saam geblits en die hele mengsel word dan verhit op die stoof tot dit dik en glad is. Skink in gesteriliseerde houers en maak toe met deksels. Dit behoort vir weke lank op ‘n rak te hou, maar ek verkies om dit eerder in die yskas te bêre.

Bedien die smeer op sponskoek of saam met botterkoekies as ‘n soet vulsel. Of skep dit oor roomys met ‘n paar vanielje meringues by. Die tekstuur is pure goue weelderigheid – ek eet dit sommer net so met ‘n lepel.

Nota: Onthou, die kleur van jou smeer sal baie afhang van die kwaliteit eiers wat jy hiervoor gebruik. Vars, organiese eiers het ‘n baie meer intense, helder eiergeel kleur. Organiese suurlemoene het ook baie meer geur, so doen moeite om dit in die hande te kry.

Bestanddele: (lewer ongeveer 750 ml, so ek verdubbel graag hierdie resep)

  • 3 suurlemoene
  • 1,5 koppies (375 ml) witsuiker
  • 125 g sagte botter
  • 4 ekstragroot eiers
  • 1/2 koppie (125 ml) vars suurlemoensap (van ongeveer 3-4 suurlemoene)
  • ‘n knippie sout

Metode:

Skil die 3 suurlemoene met ‘n groenteskiller sonder om te veel van die wit gedeeltes raak te skil. Plaas die skille in ‘n voedselverwerker saam met die suiker en meng tot ‘n fyn geel suikermengsel. Skep die suikermengsel uit die bak en sit dit eenkant. Plaas nou die botter in die voedselverwerker en meng tot dit romerig is. Voeg die suikermengsel by en meng goed. Voeg nou die eiers een vir een by en meng goed na elke byvoeging. Voeg die suurlemoensap en sout by, skraap die rante van die bak met ‘n spatula skoon en meng vir ‘n laaste keer goed. Skink die mengsel oor in ‘n klein potjie en verhit oor matige hitte terwyl jy aanhoudend roer. Dit sal verdik net voor prut-punt, so hou dit mooi dop en moenie toelaat dat dit kook nie. Skink dadelik in gesteriliseerde glashouers en draai die deksels toe. Wanneer afgekoel, bêre in die yskas.

Save

Print Friendly
Deel dit:

Appel, pekan en karamel krummelpoeding

Bedien hierdie krummelpoeding warm met ‘n skeppie roomys (goue eetgerei en linneservet van Hertex HAUS).

Dis Oktobermaand in die Boland en appels is oorvloedig. My swaer het onlangs anderkant die berg ‘n paar sakke surplus appels gekoop teen, wel, ‘n appel en ‘n ei. Een van die reuse sakke klein groen appeltjies (wat dalk net-net nie goed genoeg was vir die uitvoermark nie) het genadiglik sy pad saam met ons huis toe gevind na ‘n onlangse familiekuier.

So hoe gemaak met 5 kg appels? Ons is baie lief vir appels eet, maar daar is geen manier dat ons as ‘n gesin van drie deur hierdie lot sal kan smul voor dit begin verval nie. Appelblatjang is hoog op my lys, maar ek is al weke lank lus vir ‘n soet pastei, en so dryf my gedagtes yskas toe waar ek onthou van die oorskiet karamel wat ek onlangs gebruik het om mini-roomyshorinkies te vul. Karamel en appels is mos al jare lank boesemvriende, of hoe? En pekanneute is soos die koninklike “kersie op die koek” – daai ekstra krakerige, onmiskenbare, donker, geroosterde neutsmaak.

Soos die hemele dit wou hê, het ek ‘n paar jaar terug een van daardie appelskillers persent gekry wat jy met ‘n slinger draai: hy skil en sny en verwyder die kern asof dit kinderspeletjies is. Jy sal jouself meer as ‘n bietjie moeite spaar as jy een besit.

Hierdie poeding is dus bloot ‘n dik laag vars appelskywe met ‘n paar druppels suurlemoensap (sodat hulle nie bruin word nie), gekapte pekanneute, ‘n spuitsel karamel (ek gebruik weggooibare spuitsakkies) en ‘n basiese krummelmengsel van meel/botter/bruinsuiker. Dis ‘n halflui poeding, want waar jy effens moeite doen met die skil van die appels en die meng van die krummels, kan jy die res eintlik so half “afskeep”. Die resultaat is ‘n bros-aan-die-bokant, sag-en-klam-in-die-middel, karamelbelaaide, goudbruin poedingbom. ‘n Skeppie vanieljeroomys stuur hom behoorlik ruimte toe.

Vir die krummellaag: (genoeg vir 2 medium poedings of 1 groot)

  • 1,5 koppies witbroodmeel
  • 125 g kouer botter, in blokkies gesny
  • 60 ml (1/4 koppie) donkerbruinsuiker
  • 60 ml (1/4 koppie) witsuiker

Plaas die meel in in groot mengbak en voeg die botter by. Gebruik jou vingerpunte en vryf die botter teen jou duime in die meel in tot die mengsel soos growwe hawermout lyk. Voeg die suikers by en meng goed. Druk die mengsel dat dit in klonte bymekaar koek voor jy dit op die poeding sit. Hou koud tot die vulsel gereed is.

Vir die vulsel:

  • botter, om bakke mee te smeer
  • ongeveer 1,5 kg groen appels, geskil en in dun skywe gesny
  • ‘n paar teelepels vars suurlemoensap
  • 1 x 360 g blik karamel (ek gebruik “Nestlé Caramel Treat”)
  • 100 g pekanneute, grofgekap

Smeer twee medium tertbakke (ongeveer 20cm) of 1 groot tertbak (ongeveer 30 cm) met botter. Pak die appelskywe dig teenmekaar sodat dit half oorvleuel, soos dominoes wat omgeval het. Onthou, die appels sal effens krimp soos dit gaar word, so pak die bakke lekker vol. Besprinkel met ‘n bietjie suurlemoensap om te verhoed dat die appels bruin word (as jy stadig skil kan jy al van vroeg af die suurlemoensap begin gebruik). Plaas die karamel in ‘n plastiek spuitsakkie en spuit ‘n spiraal oraloor die appels om dit amper heeltemaal te bedek. As jy nie ‘n spuitsakkie het nie, skep net teelepelsvol oraloor. Strooi die gekapte neute oor. Strooi nou die krummelmengsel oor – druk die krummels vas in klonte soos jy dit oorstrooi, jy wil dit so klonterig as moontlik hê.

Bak in ‘n voorverhitte oond teen 190 C vir ongeveer 40 minute of tot goudbruin. Bedien warm met vanielje roomys of geklopte room.

Save

Save

Save

Save

Print Friendly
Deel dit:

Appelkooskonfyt

 

Vars appelkose, mooier as mooi.

Ek was eergister weer by Blue Jay plaasstal. Vandat ons middedorp toe getrek het in 2016, kom ek minder gereeld op die R44 net anderkant Cloetesville. Maar dis een van Stellenbosch se bes bewaarde geheime – ‘n oase van vars vrugte en groente, pragtige songedroogde vye, vrugtepulp en weelderige dik vrugtesap. Sommige groente en kruie word in klein hoeveelhede sommer rondom die winkeltjie gegroei en ander kom van heinde en verre, gewoonlik oorskot uitvoergehalte vrugte.

Hierdie keer loop ek my vas in ‘n laat oes appelkose. Nie perfekte appelkose nie, maar uitstekend vir inlê en later geniet. Teen R25 vir amper 7 kg is ek daarna direk winkel toe om suiker te koop, want konfyt is eerste op my lys (en dan maak ek suurtjies met die res).

As jy nog nie konfyt gekook het nie, sal jy verbaas wees oor die eenvoud van die resep. Dis ‘n 50/50% ratio vrugte teenoor suiker, niks anders nie. Al klink dit baie soet, is die suiker nodig om die vrugte te preserveer en as jy dit nie te lank kook nie sal die smaak van die vrugte net meer intens word – fantasties vir ‘n stukkie growwe roosterbrood met dik botter.

Tuisgemaakte konfyt maak briljante geskenke, so maak eerder ‘n groter hoeveelheid klein potjies as een of twee grotes.

Appelkooskonfyt met ‘n ligte kleur en heel vrugtestukke bly koningskos.

Bestanddele:

  • 1,5 kg ryp, ferm appelkose
  • 1,5 kg witsuiker

Metode:

  1. Steriliseer ongeveer 8 x 250 ml glaspotjies met deksels (kook dit vir 5 minute in water of plaas dit in jou skottelgoedmasjien op ‘n warm siklus).
  2. Spoel die appelkose af, sny dit in die helfte en verwyder die pitte.
  3. Plaas die appelkose in ‘n groot, swaarboom, wye kastrol en voeg die suiker by. Verhit op medium hitte sodat die vrugte begin vloeistof vrystel en die suiker begin smelt. Roer elke nou en dan om te verhoed dat die mengsel brand.
  4. Bring tot kookpunt wanneer die suiker in ‘n dik stroop verander en skep die skuim af wat bo-op vorm. Roer versigtig, maar moenie die vrugtestukke te veel opbreek nie.
  5. Die kooktydperk gaan afhang van ‘n paar faktore: die grootte en aard van jou pot, die hitte van jou stoofplaat en die rypheid van jou vrugte. Kook dit totdat die geluid van die borrels verander van ‘n rollende gebruis tot ‘n plof-plof stroopgeluid – my skoonma noem dit die “braaistadium”. Toets ‘n teelepel vol op ‘n koue piering en kyk of dit effens stol. Dit moenie hard word nie, dit moet net soos ‘n dikkerige jel lyk.
  6. Verwyder die konfyt van die hitte en skep dit dadelik versigtig in die glaspotjies. Laat so min moontlik spasie aan die bokant en draai onmiddellik die deksels vas (hou die warm potjies vas met ‘n vadoek). Laat die konfyt afkoel. Indien jy ‘n “pop” geluid hoor tydens die afkoelproses, beteken dit die potjies het geseël en sal dus vir ‘n goeie paar maande op die rak of in ‘n koel en droeë kas behoue bly.
  7. Geniet die konfyt op gebotterde roosterbrood of scones, of gebruik dit vir gebak soos Hertzoggies. Bêre in die yskas sodra ‘n potjie oop is.
Bottelleer jou konfyt in gesteriliseerde glashouers.

Save

Save

Save

Print Friendly
Deel dit:

Kabeljou oor die kole

Ek verfilm elke maand ‘n kookvideo in samewerking met TUIS Tydkrif vir #KosVosVrydag (die laaste Vrydag van die maand). Hier is ‘n fantastiese resep vir maklike appelkoosbottersous waarmee jy vars vis kan bedruip vir die kole. Ek het ‘n kabeljou gebraai, maar die sous is ook perfek vir snoek, forel en amper enige vars vis.

Geniet die feestyd!

Kabeljou oor die kole met appelkoosbottersous: (bedien 4-6)

  • 125 ml botter, gesmelt
  • sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 1-2 knoffelhuisies, fyngerasper
  • 30 ml fyn appelkooskonfyt
  • ’n handvol vars dille, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 vars vis, gevlek (bv. kabeljou, geelstert of snoek – minstens 1,7-2 kg)
  • ’n bietjie kookolie (om die rooster mee te olie)

Metode:

  1. Meng die botter, suurlemoensap en -skil, knoffel, konfyt, dille, sout en peper in ’n klein mengbakkie of kastrolletjie met ’n handklitser. Die konfyt moet heeltemaal gemeng wees.
  2. Gebruik die olie om die binnekant van jou toeklaprooster te olie sodat dit vis nie vassit nie.
    Plaas die vis velkant na onder op die rooster.
  3. Gebruik ’n kwassie om die vis te bedruip met die sous. Braai die vis oor medium-warm kole – begin met die velkant na onder.
  4. Wanneer die vis effens gaar begin word aan die bokant (die vis sal plek-plek witter begin lyk, dit neem ongeveer 7-10 minute), draai dit om sodat die bokant ook kleur kry en die vis deurgaar word. Draai weer terug en bedruip ’n laaste keer met die sous. Moenie die vis te lank braai nie anders sal dit droog word.
  5. Verwyder versigtig van die rooster en plaas op ’n opdienbord. Bedien met aartappels en ’n groenslaai.

Wenk: Kook die sous vir 30-60 sekondes in die mikrogolfoond om dit ook as ’n opdiensous te kan voorsit.

Niks is so lekker soos vars vis op die rooster nie! (fotografie deur Francois Oberholster van TUIS Tydskrif)

Save

Print Friendly
Deel dit:

Gekrummelde hoenderrepies

Ek is bevoorreg om een, pragtige, gesonde kind te hê – ’n vyfjarige dogter met die unieke naam, Valki. Valki is ’n Skandinawiese (Viking-) naam en dit beteken “fantasties”. Toe ons haar naam gekies het, het ons min geweet dat haar persoonlikheid so goed by haar naam sou pas. Valki ís fantasties! Sy is borrelend, haar entoesiasme is aansteeklik, sy is nuuskierig en vlymskerp met ’n bekoorlike sin vir humor.

Ek en Valki kook graag saam. Kinders is gewoonlik baie geinteresseerd in kosmaak – ek wens meer ouers wil hul kinders toelaat om te help kook. Dis ’n fantastiese manier om kinders bewus te maak van goeie bestanddele, gebalanseerde eetgewoontes en wonderlike samesyn in die kombuis.

Geniet hierdie resep vir gekrummelde hoenderrepies, dis ’n absolute gunsteling in ons huis vir jonk en oud.

Krakerige gekrummelde hoenderrepies met tamatiesous.
Krakerige gekrummelde hoenderrepies met tamatiesous (foto en stilering deur Nicola Pretorius)

Bestanddele: (bedien 4-6 as ’n ligte ete)

  • 1/2 koppie meel
  • 1 teelepel sout
  • 1 teelepel paprika
  • 500 g hoenderborsies, opgesny in repies
  • 4 eiers, geklits
  • 6 snye brood, fyngemaak in ’n voedselverwerker
  • canola olie, vir vlakbraai

Metode:

  1. Meng die meel, sout en paprika saam in ’n vlak bakkie.
  2. Doop elke hoenderrepie in die meelmengsel, dan in die eier en dan in die krummels. Maak seker die krummels bedek elke repie, en plaas dit dan een vir een op ’n skoon bord of skinkbord.
  3. Verhit die olie in ’n groot swaart pot, en vlakbraai aan beide kante tot goudbruin (of bak dit op ’n gevoerde bakplaat teen 220 C vir ongeveer 20 minute tot goudbruin). Dreineer op kombuispapier en bedien met tamatiesous or mayonnaise.

Wenk: Die hoenderrepies verkry ’n lieflike krakerige resultaat as dit gebraai word in olie, maar jy sal heelwat vet uitsny indien jy dit eerder in die oond bak. Kinders kort goeie olies in hul dieet en ek verkies self of dit eerder in olie te braai. Maak self die besluit wat vir jou huishouding die beste sal werk.

Krediete:

Video vervaardig deur Skript.tv.

Draaiboek, aanbieding en resep: Ilse van der Merwe – Die Kos Vos

Handelsmerk- en stelbestuur: René Geustyn – the O. co

Stelstilering, kosstilering en fotografie: Nicola Pretorius – Lark Haus.

Print Friendly
Deel dit:

Bierbrood

Niks is beter as die reuk van ‘n eenvoudige, tuisgebakte brood uit jou eie kombuis nie – stomende brood met ‘n krakerige korsie, waarin die botter kan smelt soos jy dit smeer. Almal wat ek ken (wat nie sensitief is vir koolhidrate nie) is doodeenvoudig mal daaroor.

Nie almal het die moed om deeg aan te maak, te knie, te laat rys en te bak nie. Wel, hier is ‘n resep wat enigiemand kan maak wat met ‘n houtlepel kan roer, want dit hoef nie geknie te word òf te rys nie. Selfs my man Schalk (wat net kan toebroodjies maak en vleisbraai) kan hierdie brood maak. Roer, skep, bak. Die eindresultaat is soveel groter as die bietjie moeite en dis absoluut heerlik.

Bierbrood - die maklikste resep vir 'n stomende broodjie vir jou volgende braai sonder om eers jou hande vuil te maak.
Bierbrood – die maklikste resep vir ‘n stomende broodjie vir jou volgende braai sonder om eers jou hande vuil te maak. (Fotografie deur Nicola Pretorius)

Bestanddele: (lewer 1 standaard brood)

  • 500 g bruismeel
  • 5 ml (1 teelepel) sout
  • 1 1/2 standaard blik/bottel bier (ongeveer 500 ml)

Metode:

  1. Voorverhit jou oond tot 180 C en spuit/smeer ‘n standaard broodpannetjie met kleefwerende middel.
  2. Plaas die bruismeel, sout en bier in ‘n groot groot mengbak. Roer goed met ‘n houtlepel.
  3. Gooi die mengsel in die voorbereide broodpan en maak effens gelyk bo-op. Bak teen 180 C vir ongeveer 50-60 minute tot goudbruin.
  4. Verwyder uit die oond en keer om op ‘n draadrak of skoon vadoek. Laat effens afkoel (voor jy dit sny) en bedien dan warm.
Geniet jou bierbrood met botter, konfyt en kaas (fotografie en stilering deur Nicola Pretorius)
Geniet jou bierbrood met botter, konfyt en kaas (fotografie en stilering deur Nicola Pretorius)

Krediete:

Video vervaardig deur Skript.tv.

Draaiboek, aanbieding en resep: Ilse van der Merwe – Die Kos Vos

Handelsmerk- en stelbestuur: René Geustyn – the O. co

Stelstilering, kosstilering en fotografie: Nicola Pretorius – Lark Haus.

 

Print Friendly
Deel dit: