Meer oor Ilse

Ek is Ilse van der Merwe: kok, kosinhoudvervaardiger, samesynliefhebber en volslae kosentoesias. Ek woon in skilderagtige Stellenbosch – bekende Bolandse dorp in die Weskaap, Suid Afrika. Na ‘n radikale loopbaanskuif in 2011 het ek die laaste paar jaar die onuitputbare skatkis van die koswêreld ontdek deur my blog www.thefoodfox.com. Nou wil ek graag my kosstories ook  in Afrikaans met jou deel.

Antwoorde op gereelde vrae:

V: Wie is jou kos-ikone?

A: Ons het soveel unieke kos-ikone in Suid Afrika. Ek is mal oor Phillippa Cheifitz se eenvoudige benadering tot resepte, Errieda du Toit se toorkrag met woorde haar briljante koskennis, Mari-Louis Guy se stilering en werksetiek, Peter Veldsman se onthaalswier, Cass Abrahams se onopgesmukte aanslag, Hetta van deventer Terblanche se ongeëwenaarde kosgeskiedeniskennis, Vickie de Beer se stilering en resepte (veral haar baanbrekerwerk met resepte vir diabete) en Ina Paarman se begrip van hoe gewone mense tuis wil kosmaak. Op die internasionale front is ek ‘n groot aanhanger van Ina Garten (VSA) se rustige manier van kook en haar wenresepte wat elke keer werk, Donna Hay (Australië) se moderne styl en sin vir eenvoud, Yotam Ottolenghi (Brittanje/Israel) se vars aanslag met eenvoudige bestanddele en Nigella Lawson (Brittanje) se skaamtelose liefde vir lekker eet.

V: Hoe lank is jy?

A: 1,90 m (of soos my ma sal sê, ses voet drie)

V: Wat is die kleur van die rooi lipstiffies wat jy dra?

A: MAC se Russian Red en Lady Danger.

V: Is jy getroud? Het jy kinders?

A: Ek is getroud met Schalk van der Merwe, baskitaarspeler en historikus. Ons het ‘n dogter, Valki (6).

IMG_6972(1)
Ilse, Valki en Schalk van der Merwe, 2016.

V: Watter tipe kos eet jy elke dag?

A: Ek hou van goeie koffie en tuisgebakte growwe beskuit vroegoggend. Daarna eet ek amper elke dag soetgoed vir middagete – iets soos ‘n stuk koek, sjokolade, amandel croissant, cinnabun, oorskiet nagereg van die vorige aand, ens. Saans kook ek eenvoudige aandetes vir my gesin by die huis. Ons is baie lief vir pasta en pizza, maar ons braai ook graag – veral hoender.

V: As jy heeldag deur kos omring word, hoe kry jy dit reg om nie erg oorgewig te wees nie?

A: Dis seker een van die vrae wat ek die meeste kry (mense is darem vreemd)! Ek spandeer baie tyd op my voete wanneer ek grootskaals kook en fotosessies doen, maar mense sal verbaas wees as hulle sien hoeveel swaar kratte vol kos en props jy moet rondsleep as deel van hierdie niche loopbaan! Dis fisiese, harde werk en jy moet baie stamina hê om die pas te kan volhou. Ek glo in balans en is lief vir draf en swem, maar ook baie lief vir ‘n glas goeie wyn wanneer ek ontspan. Sjokolade en soet gebakte lekkernye maak my gelukkig so ek eet dit gereeld in plaas van ‘n maaltyd (ek beveel dit nie aan nie, want sommige mense sal summier ‘n galaanval kry). Ek drink baie water en vermy gaskoeldrank wat baie suiker bevat.

V: Watter opleiding het jy?

A:  Na skool het ek ‘n B. Verbruikerswetenskap graad verwerf aan die Universiteit Stellenbosch in 2000. Ek het as kelnerin gewerk tydens my studentejare en baie geleer oor die restaurant-industrie. Ek het al my kelnerin-geld spandeer op uiteet by die top restaurante in Stellenbosch. Daarna het ek vir ‘n wyle gewerk in die korporatiewe kledingbedryf in Kaapstad, waarna ek ‘n kleurryke loopbaan geniet het in die plaaslike rock ‘n roll musiekbedryf as besprekingagent en feesorganiseerder (2002-2011) met my eie besigheid, Red Fox. Aan die einde van 2010 het ek die besluit gemaak om ‘n kosblog te begin skryf (www.thefoodfox.com). In 2011 het ek my besprekingsagentskap gesluit en die kosbedryf ‘n voltydse go gegee. Ek het in daardie tyd sosiale media inhoud geskryf vir ‘n paar korporatiewe kliënte en baie waardevolle ondervinding opgedoen i.t.v. kosnavorsing.  Op versoek van vriende het ek “ondergrondse” kookdemontrasies van my huis af begin hou vir groepe van 10, en dit het vinnig gegroei in gewildheid. In 2014 wen ek die Fair Lady Verbruikerstoekenning vir Beste Kos Blogger. My blog www.thefoodfox.com het vandag ‘n sterk, lojale groep globale aanhangers en ek is onlangs benoem as een van die mees invloedryke bloggers in Suid Afrika. Oor die laaste 7 jaar het ek ‘n belangrike les geleer: met die nodige toewyding en aanleg kan jy byna enigiets baasraak. Sonder ‘n klassieke chef kwalifikasie het ek duisende ure spandeer aan oplees, kook en eksperimenteer, en het geleer om my instinkte te volg. Vandag vertrou ek my palet, my getroue hande en my gesonde verstand.

Vrywaring: Ek is nie ‘n dieetkundige nie. Indien jy enige kosallergieë of spesiale dieetvoorkeure het, sou ek aanbeveel dat jy ‘n mediese spesialis raadpleeg.

Schalk, Valki en Ilse van der Merwe (fotografie deur Christine Meintjes)
Schalk, Valki en Ilse van der Merwe, 2015 (fotografie deur Christine Meintjes)

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Print Friendly
Deel dit: