Appel, pekan en karamel krummelpoeding

Bedien hierdie krummelpoeding warm met ‘n skeppie roomys (goue eetgerei en linneservet van Hertex HAUS).

Dis Oktobermaand in die Boland en appels is oorvloedig. My swaer het onlangs anderkant die berg ‘n paar sakke surplus appels gekoop teen, wel, ‘n appel en ‘n ei. Een van die reuse sakke klein groen appeltjies (wat dalk net-net nie goed genoeg was vir die uitvoermark nie) het genadiglik sy pad saam met ons huis toe gevind na ‘n onlangse familiekuier.

So hoe gemaak met 5 kg appels? Ons is baie lief vir appels eet, maar daar is geen manier dat ons as ‘n gesin van drie deur hierdie lot sal kan smul voor dit begin verval nie. Appelblatjang is hoog op my lys, maar ek is al weke lank lus vir ‘n soet pastei, en so dryf my gedagtes yskas toe waar ek onthou van die oorskiet karamel wat ek onlangs gebruik het om mini-roomyshorinkies te vul. Karamel en appels is mos al jare lank boesemvriende, of hoe? En pekanneute is soos die koninklike “kersie op die koek” – daai ekstra krakerige, onmiskenbare, donker, geroosterde neutsmaak.

Soos die hemele dit wou hê, het ek ‘n paar jaar terug een van daardie appelskillers persent gekry wat jy met ‘n slinger draai: hy skil en sny en verwyder die kern asof dit kinderspeletjies is. Jy sal jouself meer as ‘n bietjie moeite spaar as jy een besit.

Hierdie poeding is dus bloot ‘n dik laag vars appelskywe met ‘n paar druppels suurlemoensap (sodat hulle nie bruin word nie), gekapte pekanneute, ‘n spuitsel karamel (ek gebruik weggooibare spuitsakkies) en ‘n basiese krummelmengsel van meel/botter/bruinsuiker. Dis ‘n halflui poeding, want waar jy effens moeite doen met die skil van die appels en die meng van die krummels, kan jy die res eintlik so half “afskeep”. Die resultaat is ‘n bros-aan-die-bokant, sag-en-klam-in-die-middel, karamelbelaaide, goudbruin poedingbom. ‘n Skeppie vanieljeroomys stuur hom behoorlik ruimte toe.

Vir die krummellaag: (genoeg vir 2 medium poedings of 1 groot)

  • 1,5 koppies witbroodmeel
  • 125 g kouer botter, in blokkies gesny
  • 60 ml (1/4 koppie) donkerbruinsuiker
  • 60 ml (1/4 koppie) witsuiker

Plaas die meel in in groot mengbak en voeg die botter by. Gebruik jou vingerpunte en vryf die botter teen jou duime in die meel in tot die mengsel soos growwe hawermout lyk. Voeg die suikers by en meng goed. Druk die mengsel dat dit in klonte bymekaar koek voor jy dit op die poeding sit. Hou koud tot die vulsel gereed is.

Vir die vulsel:

  • botter, om bakke mee te smeer
  • ongeveer 1,5 kg groen appels, geskil en in dun skywe gesny
  • ‘n paar teelepels vars suurlemoensap
  • 1 x 360 g blik karamel (ek gebruik “Nestlé Caramel Treat”)
  • 100 g pekanneute, grofgekap

Smeer twee medium tertbakke (ongeveer 20cm) of 1 groot tertbak (ongeveer 30 cm) met botter. Pak die appelskywe dig teenmekaar sodat dit half oorvleuel, soos dominoes wat omgeval het. Onthou, die appels sal effens krimp soos dit gaar word, so pak die bakke lekker vol. Besprinkel met ‘n bietjie suurlemoensap om te verhoed dat die appels bruin word (as jy stadig skil kan jy al van vroeg af die suurlemoensap begin gebruik). Plaas die karamel in ‘n plastiek spuitsakkie en spuit ‘n spiraal oraloor die appels om dit amper heeltemaal te bedek. As jy nie ‘n spuitsakkie het nie, skep net teelepelsvol oraloor. Strooi die gekapte neute oor. Strooi nou die krummelmengsel oor – druk die krummels vas in klonte soos jy dit oorstrooi, jy wil dit so klonterig as moontlik hê.

Bak in ‘n voorverhitte oond teen 190 C vir ongeveer 40 minute of tot goudbruin. Bedien warm met vanielje roomys of geklopte room.

Save

Save

Save

Save

Print Friendly
Deel dit:

Leave a Reply