5 Fantastiese eetgewoontes vir 2016

Fotografie deur Tasha Seccombe.
Fotografie deur Tasha Seccombe.

Een van die mees gewilde nuwejaars resolusies wat mense elke jaar maak is om gewig te verloor. Ek het my badkamerskaal al meer as ‘n jaar gelede weggepak, want ek weet mos hoe my lyf in my klere wil voel. Daarom wil ek in 2016 daarop fokus om beter eetgewoontes aan te kweek (en steeds ver van ‘n skaal af weg te bly).

Dis nie rocket science nie, ons almal weet eintlik wat goed is vir ons. Maar ek is die laaste een wat bereid is om my glasie wyn of my daaglikse soet dingetjie prys te gee. Ontspan – hierdie lysie is nie geskryf om jou pret te bederf nie. As jy in 2016 die volgende eenvoudige eetgewoontes kan aankweek, verdien jy ‘n klop op die skouer:

  1. Drink meer water. Jy hoef nie noodwendig 8 glase water ‘n dag te drink nie, maar hoe meer water jy kan drink, hoe beter. Dis wonderlik vir jou verteringstelsel, jou vel, jou jeugdigheid, jou hidrasievlakke – you name it.
  2. Eet ontbyt. Baie mense maak nie tyd vir ontbyt nie want hulle is gejaagd en “nog nie honger nie”. ‘n Eenvoudige ontbyt maak jou metabolisme wakker en gee jou die nodige energie om ‘n betekenisvolle oggend te kan aandurf. Gryp ‘n vrug as jy min tyd het. Maar die beste raad is: staan bietjie vroeër op en maak tyd om vir 5 minute stil te sit en ontbyt te geniet. ‘n Beker koffie en ‘n oggendgeselsie met jou huismaat of familie doen ook wondere vir die siel.
  3. ‘n Appel ‘n dag… Die spreekwoordelike appel verwys eintlik na enigeiets vars en rou. Vrugte en groente wat nie gekook of geprosesseer is nie is koningskos vir jou liggaam, en die natuurlike vesel daarin skrop jou ingewande skoon.
  4. Vermy geprosesseerde kos. Hoe meer “whole food” ons kies om te eet, hoe beter is ons energievlakke, ons gemoedere, ons algemene gesondheid. Dis ‘n feit soos ‘n koei. Kies volroom jogurt, rou heuning, ongeprosesseerde kaas en vleis, heel groente en vrugte met skille (waar moontlik) en volgraanbrood. Geprosesseerde kos lyk en smaak gewoonlik aanloklik, maar dit maak jou traag en opgeblaas.
  5. Eet vroeër aandete. Om teen 23h00 met ‘n vol maag te gaan slaap is vir niemand goed nie. As jy voor 19h00 klaar geëet is, het jou liggaam genoeg tyd om die kos te prosesseer voor jy in die bed klim en ‘n dus ‘n baie beter nagrus te verseker. Dit behoort ook te beteken dat jy hongerder sal wakker word. En ontbyt sal eet.
Print Friendly
Deel dit:

Leave a Reply